Toe ek presies 11 jaar terug vir Ethan hier afgelaai het, het Karien my eenkant toe gevat en gesê: ‘Voel vry om enige tyd deur die dag te bel om te hoor of alles oukei is.’ Op daardie oomblik het ek geweet alles gaan oukei wees.
Maar nooit in my wildste drome het ek gedink dat dit vir my 11 jaar later gaan voel asof ek my familie verloor nie.
Baie dankie aan elke liewe een van julle wat my 3 ‘handvol’ seuns grootgemaak het.
Alwyn en Tasje
Baie dankie vir ieder en elk vir wat julle vir Charl die afgelope 4 jaar gedoen en beteken het. Woorde kan nie ons dankbaarheid beskryf nie.
Die hoeveelheid liefde en sorg wat julle aan elke dag lê en die inroep in die kantoor met lekker geselsies is iets wat ek na aan die hart sal dra. Charl het gefloreer by julle en ons kon sien hy was gelukkig.
Julle het gehelp om die fondasie vir sy toekoms te lê, en wat ʼn stewige fondasie is dit nie! Julle sal altyd my nommer 1 keuse vir ʼn kleuterskool wees.
Michelle en Charl Haasbroek
Ek is elke oggend in ʼn haas en in en uit, maar verstuit myself nooit om die gevoel te ervaar as ek daar instap nie. Die verwelkomende gesigte van ALMAL en natuurlik die reuk van lekker pap laat dink my aan ‘huis’.
En dis presies hoe my kinders ‘grootgemaak’ is by julle, soos ek grootgemaak is. Ons is gereeld in geselskap waar ouers kla en sanik oor hulle kinders se skooltjies. Dan sit ek met trots breë bors en sê maar niks.
Asof ons met ons ‘gat in die botter geval het’ met julle. Wat WAT is daar om te kla oor julle?
Die Westraads
Ek wil graag van die geleentheid gebruik maak om julle te bedank vir die jare wat ons met julle ‘n pad kon gestap het. Baie dankie vir al die liefde en omgee van jou en jou personeel ten opsigte van ons kinders. Ek en Gideon waardeer dit ongelooflik baie.
Erika Conradie
My dogtertjie is by Abra-kedabra van die ouderdom van 2 en ʼn half maande. Sy is nou 14 maande en ek is nie een oomblik spyt oor my besluit om my kleinding daar in te skryf nie.
Op daai stadium was sy die jongste en kleinste in die babakamer en die personeel gaan regtig uit hul pad om jou as ouer gerus te maak en te laat voel.
Ek is ongelooflik dankbaar vir die kantoor en babakamer personeel. En ek weet my juweel is in uitmuntende en professionele hande.
Maryna
Van baba-klas tot Graad R. Ons kon nie vir ʼn beter voorbereiding vir Leané gevra het nie.
Dankie vir al die hulp en raad.
Ons is trots om deel van die Abra-familie te wees.
Andre en Twiggy
Ons loop al 8 jaar ʼn pad saam met Abra-Kedabra. Ek kan net goeie dinge sê van die skooltjie.
Die onderwysers is ongelooflik en ek as ouer kan altyd gerus voel dat my kinders veilig en gelukkig is.
Verashka en JP Prinsloo
By Abra-Kedabra Crèche is ons leuse: Vir ouers se gemoedsrus en kinders se geluk. Na meer as 30 jaar sien ons onsself ook as vangnet en ondersteuningsnetwerk vir die voorskoolse gesin.
Met groot waardering deel ons graag wat ons ouers oor hul ervaring by Abra-Kedabra sê.
Ons het ʼn derde kind gekry – net om nog ʼn paar jaar by Abra te kan wees!
Nelmari Volschenk