Hoekom kry kleuters tantrums?

Kleuters is besig om groot emosies aan te leer en te verwerk, maar hul brein is nog nie ten volle ontwikkel om frustrasie, teleurstelling of oor stimulasie te hanteer nie. Volgens die kindersielkundige, Dr. Laura Markham, is tantrums dikwels kinders se manier om hul onvervulde behoeftes te wys, of opgehoopte gevoelens vry te laat. Algemene oorsake sluit in: honger, moegheid of ’n behoefte aan onafhanklikheid (bv. “Ek wil dit self doen!”). As jy as mamma of pappa dit verstaan, kan jy ’n tantrum benader met empatie, eerder as frustrasie.

Sewe strategieë wat sal help om die tantrum te hanteer:

Bly kalm

As jy kalm bly, help jy jou kind ook om te kalmeer. Jou rustigheid dien as voorbeeld van hoe om emosies te hanteer. (Tel tot tien, haal diep asem – moenie terugskree nie).

Erken hulle gevoelens

Laat jou kind voel jy verstaan. (“Ek sien jy is baie kwaad omdat jy nie nou nog ‘n koekie kan kry nie”).
Dit help hulle veilig voel.

Moenie toegee aan onvanpaste eise nie

As jy toegee, leer hulle dat ‘n tantrum werk. Bly liefdevol, maar ferm. (“Nee, jy kan nie nou die speelding kry nie”).

Bied keuses aan

Gee jou kind die gevoel van “beheer”. (“Wil jy nou die rooi of die blou beker hê?”). Kies, gee hulle mag sonder om beheer te verloor.

Neem die volgende moontlike oorsake in ag

Tantrums gebeur dikwels as kinders honger, moeg of oor gestimuleer is.(Pak peuselhappies, hou roetine, en vermy lang inkopiesessies as hulle moeg is).

Leer emosionele woorde

Help hulle om hul gevoelens te bewoord: kwaad, hartseer, moeg, verveeld. (Speel “gevoelenspeletjies”,  of gebruik prentjies om emosies te leer ken).

Gee erkenning aan goeie gedrag

Gee positiewe aandag as hulle hulself goed gedra. (“Ek sien jy het mooi gewag vir jou beurt – dit was fantasties!”).